Keynesianisme

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search

Keynesianisme is die siening dat ekonomiese produksie in die kort termyn sterk beïnvloed word deur gesamentlike vraag (totale besteding in die ekonomie), veral tydens resessies. In die Keynesiaanse siening is gesamentlike vraag nie noodwendig gelyk aan die produksiekapasiteit van die ekonomie nie; dit word eerder deur 'n aantal faktore beïnvloed en tree soms wisselvallig op, wat produksie, indiensneming, en inflasie affekteer.[1]

Die teorieë wat die basis van Keynesianisme vorm is die eerste deur die Britse ekonoom John Maynard Keynes in sy boek The General Theory of Employment, Interest and Money, wat in 1936 tydens die Groot Depressie uitgegee is, voorgelê. Keynes se benadering het 'n ander perspektief gelewer as die konvensionele fokus op gesamenlike aanbod van die klassieke ekonomiese siening. Die interpretasies van Keynes wat gevolg het, is betwisbaar en verskeie ekonomiese denkrigtings maak aanspraak op sy nalatenskap.

Keynesiaanse ekonome voer gereeld aan dat besluitneming in die private sektor soms tot ondoeltrefende makroekonomiese uitkomste lei wat dan aktiewe beleidsresponse deur die publieke sektor noodsaak, soos monetêre beleid deur die reserwebank en fiskale beleid deur die regering, om produksie oor die besigheidsiklus te stabiliseer.[2] Keynesianisme staan 'n gemengde ekonomie voor, d.i. 'n ekonomie wat deur die private sektor oorheers word, maar met 'n rol vir regeringsingryping tydens resessies.

Keynesianisme het as die standaard ekonomiese model in ontwikkelde lande tydens die laaste deel van die Groot Depressie, die Tweede Wêreldoorlog, en die ekonomiese uitbreiding na die Tweede Wêreldoorlog (1945-1973) gedien, alhoewel die invloed daarvan gekwyn het na die oliekrisis van 1973 en die daaropvolgende stagflasie in die 1970s.[3] Met die koms van die globale finansiële krisis van 2008 is 'n herlewing in Keynesiaanse denke ervaar.[4]

Oorsig[wysig | wysig bron]

Voordat Keynes se The General Theory of Employment, Interest and Money gepubliseer is, het hoofstroom ekonome geglo dat die ekonomie oor die algemeen in ewewig was, d.i., aangesien verbruikers se behoeftes altyd die kapasiteit van produsente oorskry om in daardie behoeftes te voorsien, alles uiteindelik verbruik sal word sodra toepaslike pryse daarvoor vasgestel word. Hierdie oogpunt word in Say se wet[5] verteenwoordig asook in die skrywes van David Ricardo[6] wat sê dat indiwidue produseer sodat hulle óf hul eie produksie kan verbruik, óf dit verkoop om iemand anders se produksie te koop. Hierdie argument berus op die veronderstelling dat indien die aanbod van dienste en goedere in oorvloed is, die pryse daarvan sal daal tot die punt waarby alle oorskot verbruik sal word.

Keynes se teorie het die hoofstroom denkwyse omgekeer en het groter bewustheid van strukturele ontoereikendheid meegebring. So is werkloosheid byvoorbeeld nie meer as'n resultaat van morele gebrekke gesien nie, maar eerder as die gevolg van wanbalanse in vraag en aanbod en as 'n funksie van die uitdyende of inkrimpende fase van die ekonomie. Keynes het aangevoer dat, aangesien daar geen waarborg is dat wat geproduseer word met genoeg vraag tegemoet sou kom nie, werkloosheid dus 'n natuurlike gevolg was van veral 'n inkrimpende ekonomie.

Sien ook[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. "Keynesian Economics". Concise Encyclopedia of Economics (2nd). (2008). Ed. David R. Henderson (ed.). Indianapolis: Library of Economics and Liberty. ISBN 978-0865976658. OCLC 237794267. 
  2. Sullivan, Arthur; Steven M. Sheffrin (2003). Economics: Principles in action. Upper Saddle River: Pearson Prentice Hall. ISBN 0-13-063085-3. 
  3. Fletcher, Gordon (1989). The Keynesian Revolution and Its Critics: Issues of Theory and Policy for the Monetary Production Economy. Palgrave MacMillan. pp. xix–xxi, 88 , 189–191, 234–238, 256–261. ISBN 0-312-45260-8. 
  4. "Economic Crisis Mounts in Germany". Der Spiegel. 4 November 2008. Besoek op 2011-08-13. 
  5. Say, Jean-Baptiste (2001). A Treatise on Political Economy; or the Production Distribution and Consumption of Wealth. Kitchener: Batoche Books. 
  6. Ricardo, David (1871). On The Principles of Political Economy and Taxation.